Vlamme in Februarie

Pas terug na ons eerste reis oorsee vir die jaar om toeriste aan te moedig om na Suid-Afrika te kom, land ons in ‘n baie droeë Kaap.  Alle klere is in Amerika en in Dubai gewas om sodoende water te bespaar voor ons terugkoms.  Die Premier van die Wes-Kaap het ons bang gemaak en hierdie Provinsie staan soos een man saam en het meer as die helfte van hul waterverbruik verminder.  ‘n Wêreldrekord.

In ons eerste week in Februarie sit ons in vergaderings.  Die kommer van toeriste en agente regoor die wêreld a.g.v. die watersituasie in die Wes-Kaap is tasbaar en ons moet vure doodslaan.  Daar is verdere vure op persoonlike vlak wat skielik opvlam.  Die jaar het skaars begin en die reën ontwyk ons op alle vlakke.

In die Nuus: Ons het ‘n nuwe President.  Die einde van Zuma.  ‘n Sug van verligting? Reën?

Gaan Suid-Afrika waarlik verander en gaan ‘n nuwe President die vlamme blus?

Die tyd hoef nie te leer nie.

In die eerste week is drastiese besluite geneem ten opsigte van ons ekonomie, skuiwe is gemaak in ons Parlement en is ‘n ongrondwetlike voorstel gemaak wat meeste hoendervleis gee (die slegte tipe), dit is nou diegene wat werklik die implikasie van hierdie voorstel verstaan.

Dit is duidelik dat die party aan bewind weer eerste prys kry en die inwoners van ons land onder druk geplaas word, ongeag watter ‘strategie’ gevolg word.  Ons nuwe President kry ‘n drastiese verhoging, ongeag die feit dat hy ‘n prominente besigheidsman is.  Hier moet ek sinies begin glimlag…

Hierdie land, geplunder in ‘n dekade deur ‘n paar, moet opgebou word deur miljoene.

Hierdie land, verwoes deur generasies se vrees en manipulasie, moet weer vertroue bou en herbou word deur ‘n nuwe generasie wat eer aan die land betoon.

Hierdie land, waar ongeregtigheid op soveel vlakke seëvier deur soveel dekades, moet besef dat een tipe ongeregtigheid nie ‘n remedie is vir ‘n ander tipe ongeregtigheid nie.

Een ding is seker:  Daar is geen land soos Suid-Afrika nie.

Die land is mooi, die mense is vriendelik en hul bly voortbeur te midde van Suid-Afrika se probleme, ongemaklikheid asook politiese en ekonomiese onsekerheid.

Die Suid-Afrikaner se wil om te bly leef, te bly bou en te bly baklei vir hierdie land is wonderlik en soms verstom dit my amper.

Die besighede wat oral gebou word, klein en groot, is ‘n teken van almal se uithouvermoë.

Mag regverdigheid geskied en mag hierdie mooiste land behoue bly, want Suid-Afrika is eie in Sy soort.

Mag die reën begin val oor Suid-Afrika en elk wat hom- of haarself op hierdie grond bevind, hard werk, eerlik  en opreg is en alles doen om werklik hierdie land te verbeter.

Mag reën alle vlamme van onreg, selfsug, haat, korrupsie, armoede, onregverdigheid, hartseer, wanhoop, onsekerheid en seer blus om plek te maak vir slegs een vlam wat helder brand.

‘n Vlam van ware hoop vir Suid-Afrika.

 

 

 

 

One Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *