Dankbaar in Desember

Ek het so lanklaas op hierdie forum geskryf.   Ek is selfs nou effe huiwerig, maar voel ek moet. Dit is die laaste dag van Desember. Hierdie is ‘n maand waar groot dele van die wêreldbevolking sekere dae afgestaan het om saam met familie of vriende tyd te spandeer, waar baie kantore vir ‘n rukkie gesluit het en waar jy, indien jy bevoorreg genoeg is, jouself in die posisie bevind het om vakansie te kon hou en te kon rus.

Hierdie jaar was ‘n leerskool. Ek moes baie introspeksie doen en het daarom tot die volgende gevolgtrekkings gekom. Jy mag dalk nie met enige óf almal van hul saamstem nie, maar hier is hul ongeag:

 

Bloed is nie dikker as water nie

Ek het geen idee wie die eerste maal die woorde “Bloed is dikker as water” as gesegde in ons volk se harte ingemessel het nie, maar ek verpes hierdie gesegde. Familie is diegene wie ek kies. Myne is die vir wie daar baie liefde in my hart is en wie my ook onvoorwaardelik aanvaar, aan my liefde betoon en eerlik is met my. Dit is daardie mense wat mentors is. Dit is diegene van wie ek kan verskil op ‘n volwasse wyse. Dit is die mense saam met wie ek om ‘n etenstafel sit deur die jaar. Dit is die vriende saam met wie ek ‘n lang pad stap en die wie ek steeds bewonder. Dit is die mense wat alles van my weet en my werklik ken.

Bloed en liefde is twee verskillende dinge.

Ek kies die liefde.

 

Tyd genees nie alle wonde nie. Ons leer om die seer te hanteer.

Alles gebeur nie vir ‘n rede nie. Soms gebeur dinge en moet mens dit hanteer. Hoe mens dit hanteer word soms beter hoe ouer en wyser mens raak. Soms nie. Sommige wonde gaan altyd bloot daar wees, maar ons kan hulle beter maak deur onsself te omring met lieflike mense en deur die dinge wat ons wel gelukkig maak. Vind uit wat dit is. Kuns, musiek, oefening, jou tuin, die see, die berge, wyn uit ‘n mooi glas, mense om jou of jou eie geselskap. Leer ken jouself en vind uit wat jou wonde beter maak, want tyd gaan hul nie genees nie. Liefde en lig mag dalk ‘n roof vorm wat moeilik is om oop te krap.

 

Jou tyd is baie kosbaar

Tyd is ons grootste geskenk. Tyd is iets wat nie met geld gekoop kan word nie en wanneer enigeen vir my tyd maak voel ek altyd dat hul vir my ‘n geskenk gee, want dit is hul tyd en hul kies om dit aan my af te staan. Ons almal het net ‘n sekere hoeveelheid tyd. Nie een van ons weet presies hoeveel tyd ons het nie. Maak seker dat jy elke minuut laat skitter, elke dag vir iemand ‘n kompliment gee, elke dag iemand help en dan verder jou tyd spandeer op dít wat jouself en die wêreld bevorder. Ek glo ons is almal hier vir ‘n rede. Gebruik jou tyd wys.

 

Jy word behandel soos jy ander toelaat om jou te behandel

Indien ek enigiets in my jare op hierdie aarde geleer het en ook baie maal my kop vir myself moes skud na slegte reaksies op aksies van ander, is dit dat mense jou gaan behandel soos jy hul toelaat. Daar is altyd leiers en die wat volg. Daar is mense wat inspireer en ander wat jou uitput. Daar is die wat skep en ander wat toekyk. Daar is die wat opbou en ander wat verwoes.

Lei jy of volg jy?

Inspireer jy of put jy uit?

Skep jy of kyk jy hoe daar geskep word?

Bou jy op of verwoes jy?

Kies vandag hoe jy behandel wil word en sit jou voet hard neer in die komende jaar. Streef na die goeie. Swem teen die stroom. Dit is goed. Dit is al hoe jy jou merk gaan maak in jou gegewe tyd.

 

Ek is meer konserwatief as liberaal en daar is niks fout daarmee nie

Op ‘n sekere ouderdom moet mens ten minste eerlik wees met jouself oor hierdie onderwerp. Ek word deur erg konserwatiewe vriende beskou as vreeslik liberaal en deur baie liberale vriende beskou as effe konserwatief. Solank mens altyd volwasse gesprekke kan bly voer oor denkwyses en altyd oop is om te leer (want mens kan altyd leer), dink ek jou posisie maak nie te veel saak nie.

 

Mense bly mense

Ek kom gereeld op ‘n plek waar ek weereens verbaas staan oor iets wat iemand doen, bloot omdat ek glo dat ek al soveel gesien en beleef het in my werk en lewe.

Telkemale beleef ek erge teleurstelling, soms woede of word my hart in stukke gebreek. Op ander dae loop my hart oor en moet ek trane sluk oor onselfsugtige dade van liefde wat mense aan mekaar en aan my betoon.

Ek dink ons moet almal besef dat ons almal moet streef na slegs die goeie, maar dat almal van ons baie maal ook ander in ‘n posisie van teleurstelling plaas.

Ons bly slegs mens. Hou wel die mense in jou lewe wat die moeite werd is. Laat die ander gaan.

 

Ons almal is sterker as wat ons dink

2017 was moeilik vir baie. Indien jy wel dink hierdie jaar was moeilik en jy jouself bitterlik jammer kry, luister vir een oomblik na iemand anders se storie. Dit is gewoonlik dan wanneer mens besef dat dit moeiliker kon gaan, ongeag watter klippe jy uit jou pad moes stoot.

2018 gaan beslis ook drake hê waarteen jy moet veg, maar as jy terugkyk en besef hoe sterk jy reeds was, kan jy enigiets aanpak met ‘n sterk wil en mense wat jou opbou. Jy is sterker as wat jy dink.

 

Ek glo (Ndiyakholelwa)

Ek en my man was bevoorreg genoeg om op 21 Desember weer na liefste Amanda Strydom by die Oude Libertas Teater in Stellenbosch te kon luister. Ek het ‘n nostalgiese traan gepik en vir ‘n ruk verlang na jare waar ons saam op die verhoog gestaan het. Soos sy gesing het, het sy baie mense inspireer omdat sy ook weereens deur die jaar geskep het. Dit was mooi en goed en het my weer opnuut herinner aan dae, ‘n hele paar jaar terug, toe ek jonger was en nooit geweet het waar die pad my sou neem nie, maar toe ook vas geglo het dat God als beheer.

Ek glo dit steeds, ongeag watter drake oor my pad kom.

My ware vriende weet dit baie goed en al stem van die liefste van hulle glad nie saam met my nie, respekteer hul my reg om te glo asook die feit dat ek glo.

 

Ek glo dat almal en alles vlugtig aan ons geleen is.

Ek glo aan ‘n God wat liefde hoog ag en dat niks teen Sy wil kan staan nie.

Ek glo dat ek ‘n lopende bewys van absolute genade is.

Ek is dankbaar in Desember…vir die reën wat val in die Kaap vanaand. Ek het gaan dans in die water, want die reën beteken seën.

 

Ek sluit af, soos altyd, met lirieke wat ek voel gepas is.

Hierdie keer is dit my gunsteling lied van die jaar. Dit is een wat my telkemale laat huil het en een van ‘n musikant en liriekskrywer wat so talentvol is dat sy werk vir baie lank sal leef.

 

 

In the blood – John Mayer
How much of my mother has my mother left in me?
How much of my love will be insane to some degree?
And what about this feeling that I’m never good enough?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

 

How much of my father am I destined to become?
Will I dim the lights inside me just to satisfy someone?
Will I let this woman kill me, or do away with jealous love?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

 

I can feel love the I want, I can feel the love I need
But it’s never gonna come the way I am
Could I change it if I wanted, can I rise above the flood?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

 

How much like my brothers, do my brothers wanna be?
Does a broken home become another broken family?
Or will we be there for each other, like nobody ever could?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

 

I can feel love the I want, I can feel the love I need
But it’s never gonna come the way I am
Could I change it if I wanted, could I rise above the flood?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

 

I can feel the love I want, I can feel the love I need
But it’s never gonna come the way I am
Could I change it if I wanted, can I rise above the flood?
Will it wash out in the water, or is it always in the blood?

3 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *