VERWAGTING IN FEBRUARIE

Hierdie ‘blog’ is effe laat, maar steeds hier… Voor ek hierdie maand behoorlik begin skryf, moet ek eers ‘n paar bladsye terugblaai en na Januarie/Februarie 2016 kyk.

My “blog” van jare was pas totaal uitgevee en gesteel deur “hackers”, my been was gebreek en senuwees in my been af, my man was oppad na Amerika (ek was hulpeloos tuis) en ons het deur erge familiedrama gegaan. Ek kon nie werk nie, ek kon nie bestuur nie en na ses jaar van inbrake, familie-negatiwiteit, hospitaalbesoeke, baie operasies, baie medisyne en totale moedelooshed, was ek sielsmoeg. My hart was gebreek. Al wat ek kon doen was een ding. Kies. Kies om teen die drake te begin veg. En ek het.

Ek het gekies om te loop sonder ‘n operasie (en ek het) en ek het gekies om ‘n sekere droom te begin bou saam met my man. Hy ondersteun steeds elke keuse en koester elke droom…

Met Alwyn se ondersteuning en ons geloof saam staan ons een jaar later saam in Amerika, was ons in Portugal en twee maal in Holland, onder andere Amsterdam, steeds een van my gunsteling plekke.

My been is sterk, ek het ‘n droom oor ‘n besigheid wat vlerke kry en ons het besluit om uiteindelik, een dag nadat ons in Suid-Afrika land, na die Kaap te vertrek as ons nuwe tuiste. Wat ‘n voorreg!

Hoekom vertel ek hierdie? Omdat ek ‘n jaar terug geen verwagting gehad het nie. Dit was donker om my. Ek was só moeg vir die berge wat geklim moes word en die drake het waarlik te veel geword.

Dinge is hierdie jaar steeds nie maanskyn en rose nie en ons werk hard, soos so baie om ons. Ons ware vriende ken ons daaglikse ‘struggles’ en jarelange pad van studies, opofferings, maande uitmekaar wees vir werk, al die kere wat drome misluk het en ons lang trane gehuil het, maar hul staan bankvas agter ons. En ja,’we are taking names…’  Ek dink die geheim lê maar in mens se ingesteldheid.  En dan help dit ook as mens iemand het wat jou 100% ondersteun.

Met die breek van die skielike nuus oor waarheen ons trek asook waarom, beleef ek verskeie reaksies van vriende en het die volgende geleer:

  1. ONS HET ALMAL IEMAND NODIG

Ongeag wie dit is. Jy het iemand nodig wie soms koffie aandra of net langs jou sit, wie jou in die hopsitaal sien in pyn en wie jou in ‘n aandrok ken wanneer jy skyn. Iemand wie probeer verstaan wanneer die res van die wêreld opgegee het. Iemand wie jou lag ken en jou kan ‘blackmail’ met geheime of ‘n foto. Dit kan enigiemand wees… Alwyn is my iemand. En die vriende wie hierdie kan doen weet PRESIES wie hulle is.  Ek sal elke maand nog foto’s opsit van julle almal… 😉

  1. WARE VRIENDE IS SOOS GOEIE BOTTELS WYN

Hoe langer jy hul het, hoe meer waarde heg jy aan hulle. Elkeen is uniek, met tyd geskep en is meesterstukke. Ek is só bevoorreg om die mees fantastiese vriende in my lewe te hê, almal met harte van goud en gawes eie aan hul menswees. Ek gaan uitmis op ‘n hele paar Jhb/Pta kuiers, maar gelukkig kom hulle almal heeltyd na die Kaap, so dit is geen probleem nie 😉

  1. JY HET NET EEN LEWE. LEWE!

In ‘n druk wêreld waar mense soms so behep raak met voorkoms, met wat hul ry, waar hul bly, wat die mense gaan sê as hul dít of dát doen, LEWE MENSE NIE en skuil hul agter toe deure en droom oor dit wat hul wou of sou doen, droom hul oor ‘n lewe anders as die een wat hul tans in is, voel hul vasgevang in situasies wat soms bitter ongesond is.

Jy het net een lewe… LEWE asseblief. Vat kanse. Glo in drome. Koester vriende. Geniet dít wat JOU gelukkig maak… Moet nooit in ‘n ongelukkige situasie vasgevang bly nie. Lewe. Dit is ‘n geskenk. Dit is joune. Jy het ‘n keuse… Indien jy gesond is en bevoeg is, moenie bang wees nie.

Begin klein waag… Gaan drink alleen koffie. Vat die lang pad na iewers sonder ‘n plan. Trek na ‘n ander provinsie sonder ‘n plan (soos ons). Doen iets wat jou heeltemal uit jou wêreld van gewoonte ruk. Begin lewe.

  1. WEES GOED VIR ANDER

Ek glo vas dat dit eintlik ‘n selfsugtige daad bly om ‘n goeie daad te doen, want die wie goed doen, voel ook goed 😉 ‘n Glimlag van blydskap as jy die kleinste ding doen is so ‘n groot geskenk. Die reaksie op ‘n kompliment, nóg meer so. Help jou bure. Kook sop vir ‘n siek vriend. Praat ‘n vriendin moed in. Skep werk waar jy kan. Gee vir die ouer tannie jou sitplek. Betaal vir iemand met baie minder as jy hul daaglikse kos wanneer jy in ‘n ry by ‘Checkers’ of ‘Spar’ staan. Dit maak ‘n verskil.  Wees goed vir ander.

  1. LOS ENIGE BITTER AGTER JOU

Wat dit ookal vat, kry dit uit jou sisteem. Sommige van ons hardloop vreeslik en eet glad nie.

Ander se hare val uit van stress en hul word siek. Stres is ‘n aaklige ding.

Sommige kry angsaanvalle en ander sit stil, huil en eet weer als.

Hoe jy ookal ‘deal’ met dit wat die lewe na jou kant toe gooi, hou dit gebalanseerd (na jou periode van malligheid waarop jy geregtig is).

Gaan sien iemand. Eet nét genoeg. Hardloop nét genoeg. Moenie siek word  van stres nie en behou asseblief die goeie. Wat jy ookal doen, los die bitterheid agter jou. Ek self moes in 2016 teen die drake begin veg wat soos ‘n wolk om my bly vlieg het.

Onthou: die mense wie nie vir jou omgee nie is nie een minuut van jou denke of tyd werd nie. Dus, ook nie jou bitterheid nie.

  1. ‘N GOEIE BRUG IS ‘N LIEFLIKE STRUKTUUR

Hoe sê mense altyd: ‘moenie brûe verbrand nie’.   Soms moet mens. Net nie die goeies nie.

My gunsteling prokureur en sy sekretaresse is twee mense baie na aan my hart. Hy het my deur jare baie geleer van wat ek weet, my blootgestel aan baie en ‘n fondasie gebou gegrond op etiek wat niemand kan skud nie.

Sy? Sy is eintlik maar ‘n prokureur. Met díé dat ek Kaap toe trek, moes ek totsiens sê na jare.

Dit het my hart gebreek, want na nege jaar van brug bou wat bestaan het uit grootword, kennis inwin, groei van aspirant regsgeleerde na advokaat en baie respek en uiteindelik liefde, moes ek hierdie lieflike struktuur laat gaan. Sulke brûe is ‘n absolute voorreg. Moet hul nooit verbrand nie… hul moet liefs ewig bly staan.

  1. ALWYN IS ‘SUPERMAN’

Ek het nooit jare terug gedink dat die lewe ons op so baie avonture (baie goed en baie sleg) sou vat nie, maar na jare bly hy standvastig, raak hy sterker en dra hy my (soms letterlik) deur die grootste van vure. Ek “love” hom en glo vas dat hy een van my beste keuses ooit was. Om hom te sien groei, gelukkig te sien en te weet waarheen hy oppad is, is een van die dinge in die lewe wat my die gelukkigste maak.  Hy is nederig. Dit is een van sy mooiste eienskappe en ek leer elke dag nóg iets by hom. Mag ons saam stokoud word. Hy is werklik vir my…

  1. ONS ALMAL LEWE ONDER ‘N SEKERE STEL WETTE

Die natuur volg hierdie wette slaafs na. Jy kan jou daaraan steur of jy hoef nie. Daar is respek, liefde, hoop en ‘n eenvoudige leefstyl. Die natuur weet hoekom die wette daar is. As die mens maar net so wys was…

  1. VREUGDE EN VREDE IN FEBRUARIE

Met dít wat ek tans beleef en waar ek tans hierdie tik, kan ek nie anders as om vreeslik dankbaar te wees nie. Ek ervaar vreugde en ‘n vrede wat ek nie kan beskryf nie…  Die Kaap is nou huis en ongeag wat enige Suid-Afrikaner sê oor ons pragtige land, bly Suid-Afrika huis, bly dit lieflik en ‘n paradys. Ons is so vreeslik bevoorreg om hierdie lieflike land huis te kan noem.  Ons is hier gebore met ‘n doel.

Ek sluit af met lirieke van een van my eie liedjies hierdie maand…een wat ek so 3,5  jaar terug opgeneem het in Switzerland saam met hierdie span mense…  ‘n Deel daarvan het reeds waar geword. 😉

EK WENS ONS WAS DAAR

 

One Comment

  1. Rika

    Rozelle, baie dankie vir dit wat jy uit jou lewe met ons deel. Ek hoop dat jy en Aalwyn baie gelukkig in die Kaap sal wees, en dat die Here vir jule sal gee die begeertes van julle harte. In ons almal se lewens gebeur daar goed soos familie isues, en dit maak baie keer seer. Dit is natuurlik meeste van die tyd onnodig. Gelukkig as jy die wil het en sterk genoeg is klim jy maar oor die berg soos jy sê.

    Hoop julle bly lekker, en dat ons gereeld van julle sal hoor.

    Groete en liefde

Leave a Reply to Rika Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *