Geen beheer in Januarie nie

Terwyl Kersversierings verlate in meeste winkels en huise hang en die gedagte aan oorvol tafels kos, wyn en vriende of familie baie van ons bybly en ons almal hopelik bitter dankbaar hiervoor is, is daar iets wat wink… ‘n Nuwe maand. ‘n Nuwe jaar.

Vir baie was 2016 rof. Vir sommige was dit aanvaarbaar en vir ander was dit ‘n wonderlike jaar. Ek dink ons almal kan wel saamstem dat, ongeag wat 2016 op ons voorstoepe neergelê het, ons iets daaruit kon leer.

Ons word soms opstandig en kwaad en verstaan nie hierdie wêreld nie. Sy is rof. Sy neem geliefdes weg, bring storms wanneer ons voel ons nie meer water kan trap nie, vat amper alle hoop weg en maak ons soms hard vir die liefde.

Die wêreld is ons woning nie…

Maar wanneer ons dit die minste verwag, sak die vreeslike golwe wat ons omslaan en kan ons weer vir ‘n rukkie water trap sonder ‘n geveg. Dit is dan wanneer ons besef hoe sterk ons is en was.

Dit is dan waar ons ook terugkyk en besef dat als net genade is en die feit dat ons bly staan het te midde van elke ding wat gebeur het, miskien nie toeval is nie.

Nou lê Januarie voor ons.

Dit is vir meeste soveel meer as net ‘n maand. Dit is vir meeste die begin van die begin. ‘n ‘Banting’ begin. Die begin van ‘n nuwe oefenprogram of ‘n lewe sonder sigarette. ‘n Jaar waar skuld gedelg gaan word. Een waar harder gewerk gaan word of een waar minder gewerk gaan word.  Die probleem hiermee is nie dat dit nie volhoubaar is nie. Van jou nuwejaarsvoorneme is beslis, maar ván hul is wel nie. Hoekom?

Die probleem is die lewe en sy golwe…en hoe jy hulle hanteer.  Gaan jy steeds by jou oefenprogram kan hou met ‘n gebreekte been? Gaan jy al jou skuld dadelik kan delg indien ‘n ramp jou tref? Gaan jy meer familie-tyd spandeer en minder werk as die ekonomie nóg harder druk? Miskien. Hierdie gaan afhang van jou gesindheid en die feit dat jy besef jy nie in beheer van omstandighede is nie, maar nie platgeslaan word daardeur nie en streef om steeds kop omhoog uit die water te klim al het jy amper verdrink en jouself moeg gespartel.

2017 wink en blink. Ek self is kinderlik opgewonde omdat planne reg is en ek gereed is vir hierdie jaar wat begin met ‘n ‘bang’.  Ek het wel in 2016 geleer dat ek nooit in beheer is van wat gebeur nie, slegs van hoe ek dit hanteer. Ek kan nou slegs terugkyk, elke lewensles vat, dankbaar wees vir dít wat ek kon leer en dankbaar wees vir elke mens wie hierdie jaar só ‘n groot verskil gemaak het…

Ek dink dit is wys om te besef dat ons almal ‘n nuwe begin moet maak: een waar ons mekaar meer waardeer, elke dag pluk, elke dag ons beste gee, ons onsself ophou meet aan enigeen of enigiets behalwe dít wat ons in ons harte wéét waarlik ‘n verskil maak en een waar ons mekaar onvoorwaardelik liefhet, want ware liefde is raar…

Ek dink ons moet begin streef om mekaar beter te hanteer, om waarlik lief vir ander te wees en meer van onsself te gee, want ons almal het iemand nodig. Niemand kan dit heeltemal alleen maak nie.

 

Aan die einde van 2016 is ek dankbaar vir elke persoon wie hierdie jaar my pad gekruis het en van wie ek kon leer.

Vir die wonderlike vriende wie altyd daar is, wie luister, wie insig gee en vir díé wie alles verander het…dankie. Julle weet beslis wie julle is.

Ek sluit af met die lirieke van Francois Van Coke & Karen Zoid

TOE VIND EK JOU

Ek lê my wapens neer
Vanaand vir die eerste keer
Sien ek myself in jou oë
Ek het hierdie oorlog verloor
Ek staar na die bloed op my hande
Ek weet ek het verander
Jy dink ek praat net weer
Ek het jou lief
Ek sweer

Geen pretensie
Geen beheer

Buite die stemme wat skater
Vriende wat groet
Sien jou later
Elkeen vind sy pad
Ek weet ek moet ook my skat

Hey, my sweet
Hey, my baby
Jy’s my toevlug
Wil jou nooit laat huil nie
Jy’s my lied
Jy’s my wysie
Ons het ’n hond
Ons het ’n huisie

Ek het genoeg gegee
Ek het genoeg geskree
Ek het lankal terug geleer
Maar nog steeds het ek probeer
Vlug soos ’n verraaier
Van dit wat my vashou
Daar was monsters in die donker
Toe vind ek jou
Ek sweer

Geen pretensie Geen beheer

4 Comments

  1. Raymond Supra

    Goeie Dag Rozelle, baie dankie vir hierdie mooi en ware woorde. Mag jy en jou geliefdes n wonderlike en voorspeodige 2017 beleef met Hoop, Geloof en Liefde groete

  2. Raymond Supra

    Goeie more Rozelle, baie dankie vir hierdie mooi en ware woorde. Wens jou en jou geliefdes n Voorspoedige en geseende 2017 met Geloof, Liefde en Hoop . Groete

  3. chrissie blignaut

    Dankie Rozelle vir die saamvat van 2016, en die nuwe treë na 2017. Mag dit n jaar vol vreugde, gesondheid en liefde wees, xxx

    • admin

      Liefste Chrissie, baie dankie vir die mooiste boodskap. Ek is bietjie laat met Februarie se blog, maar sit hom binnekort op en verduidelik ook hoekom hy effe laat is. Slégs die beste vir jul ook in hierdie komende jaar in elke gebied van jul lewe. Mag jul soveel geluk beleef… xxx

Leave a Reply to Raymond Supra Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *