Sag met jouself in September

Lente met bloeisels wat saggies val, die heerlike geur van die groot laventelbosse in my tuin en die warmer temperatuur maak dae skielik vroliker na ‘n harde, koue winter – letterlik en figuurlik.

Ek het ‘n besluit gemaak om nie in Augustus te skryf nie omdat dít wat ek sou skryf bloot ‘n masker sou moes wees, indien opbouend. Ek kan net eerlik wees en sou oor winter skryf. Min mense wil weet van winter. Meeste wil eintlik maar die masker sien en eerder vertrou in die lente. Of dit goed óf sleg is weet ek nie, maar die lente is wel hier en daarom skryf ek.

introspeksie

Daar word altyd vir ons gesê dat die lewe ons slyp deur ‘n “winter seisoen”.  Op tye wanneer dit nie goed gaan nie, op tye wanneer dit wel goed gaan, op tye wanneer ons moet moed hou… Ja, hierdie word dalk ligtelik gesê in ‘n preek of geselskap, maar dit is ‘n waarheid waarvan ons nie kan ontsnap nie. Ons het net bloot geen keuse wát konstant en aanhoudend met ons gebeur nie. Wanneer winter tref, kan ons niks doen nie. Ons kan onsself net pantser teen die koue en droom van die lente.

Van ons gaan kruip in diep gate weg omdat ons nie meer geslyp wil word of die koue wil trotseer nie. Dit is verstaanbaar. Die proses is seer en koud. Daar is niks daarmee verkeerd nie.

Ván ons kies om aan te hou staan en deur die storm aan te hou beweeg, hoe koud dit ookal mag raak. Soms dink ek daar is ‘n mate van waansin hieraan gekoppel, maar as mens enigsins met wilde ambisie gebore is, is dit jou lot – ‘n pad van val in die sneeu en koue, opstaan, val in die sneeu en koue en opstaan, al is jy rou geval, jou wonde oop en ‘n berg vol ys staan nog voor jou. Min mense is bewus van ander se berge vol ys.  Jy weet jy gaan hom moet klim en dat dit koud gaan wees. Die vraag is: gaan jy val en bly lê of gaan jy oor die berg kom en stil-stil jou seisoen van lente bereik?

Ons het ‘n keuse.

Ons kan kies om lente te vier (al is dit nie heeltemal lente in ons eie lewens nie) of om altyd winter om ons te hou en sodoende die bloeisels vir ander weg te steek. Jy kan kies om vir iemand ‘n bos blomme te gee, lente te vier en die winter af te skud (al is daar nog winter in jou hart en ‘n wond wat bloei).

Ek glo vas aan die volgende beginsels: Hanteer almal dieselfde. Wees sag. Wees gaaf. Wees regverdig. Wees eties. Wees eerlik. Bly nederig. Help waar jy kan. Ek is beslis nie perfek nie, maar ek probeer hierdie toepas. Ek probeer beslis die bloeisels sien en ek probeer baie blomme uitdeel, alhoewel die winter my so nou en dan nog bykom.

Ek het op 32-jarige ouderdom wel die besluit gemaak dat die winter my nie yskoud en hard gaan maak nie, maar dat ek wel kies om diegene wie aanhoudend groot storms in my lewe inbring i.p.v. bloeisels, te laat gaan.

27So met die lente saam het een ding baie, baie duildelik geword in September. Ek het wonderlike vriende. Jul weet wie julle is.

Julle is diamante, reeds geslyp. Julle is lente en julle bring blomme.

Ek het ook vriende met BAIE groter storms, langer winters en groter berge as ek. Dit help altyd om op ander te fokus as jy sukkel, want dit sit jou probleme in perspektief, maar soos my geliefde ex-Cutt Glas vriendin, Karen Wessels, die week vir my sê: Hierdie is my winter en ek mag ook soms ‘n kombers om myself gooi.

Ek weet ek sê altyd: “It’s not all relative”, bloot omdat ek nooit my lewe kan vergelyk met die vrou in Afrika wie haarself doodwerk en nooit, ooit ‘n paar skoene gaan besit nie. Daarom voel ek só skuldig as ek ooit kla oor enigiets. In vergelyking met daardie vrou se lewe, ongeag van my winter, is my lewe ALTYD  in ‘n seisoen van LENTE…

My boodskap vir hierdie maand is wel dít:

Sit miskien die skuldgevoel (al is dit net vir ‘n dag) eenkant en wees SAG MET JOUSELF IN SEPTEMBER, gooi ‘n kombers om jouself, word bietjie warmer, skop vas teen die koue en ontspan in die snoesigheid van jou kombers, sodat jy vir ander blomme kan neem, ‘n verskil kan maak, die bloeisels kan ruik en sodoende die winter uit ander se lewens kan wegjaag sodat jul almal die die lieflike lente kan beleef en jy kan sprankel in September.

Ek kies altyd ‘n liedjie saam met my ‘blog’.

Die een vir hierdie maand is een van my eie. Spesiaal vir Annette wat hierdie maand al vir een jaar slegs die lente geniet en sonder sorge speel.

Sonder Sorge

Ek wou vanoggend die son se strale steel

Dit toevou in ‘n lenteblom en vir jou gee om mee te speel,

Want ek mis jou

En ek wonder wat nou…

 

Ek wou bietjie later met môredou

‘n kombers van water maak om jou saggies toe te vou,

want ek mis jou

En ek wonder wat nou…

 

Hier wil ek vanmiddag ‘n Jakaranda se pers

Laat reën om jou voete om die wêreld weg te wens

En jou laat dink aan ‘n plek met ‘n glinsterkasteel

Waar jy ewig soos ‘n kaalvoetkind

Sonder sorge kan speel

 

Ek wil vanmiddag ‘n kind se glimlag vang

Dit raam om vir altyd teen jou kamermuur te hang,

Want ek mis jou

en ek wonder wat nou…

 

Hier wil ek vanmiddag ‘n Jakaranda se pers

Laat reën om jou voete om die wêreld weg te wens

En jou laat dink aan ‘n plek met ‘n glinsterkasteel

Waar jy ewig soos ‘n kaalvoetkind

Sonder sorge kan speel

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *