JONK IN JULIE

Julie het aangebreek. Ek is net betyds terug in Suid-Afrika om hierdie maand in te gaan nadat ek bevoorreg genoeg was om twee weke in Nederland en Portugal te spandeer.  Dit bly altyd ‘n groot voorreg om te reis, ongeag waarheen. ‘n Paar dinge het vir my duidelik geraak tydens my tyd in Europa.

DIE WÊRELD IS WONDERLIK.

Ons lewe in ‘n wonderlike wêreld wat, alhoewel deurmekaar op hierdie stadium, steeds kleurryk, sielvol en gevul met fantastiese kulture en mense is. Elk verskil, maar by elkeen kan mens iets leer, is daar rede hoekom mense vandag in hul lande lewe soos hul lewe en die kulturele gewoontes navolg wat hul volg en maak dit mens slegs ryker om te besef dat ons eie wêreldjies so klein is en daar so baie dinge buite ons verwysingsraamwerk is om te beleef…36

ONS VERDIEN NIKS NIE.

Hoeveel keer hoor mens nie die sin: “Ja, ons verdien ‘n vakansie… Ons het hard gewerk hierdie laaste paar maande” nie? Verdien jy ‘n vakansie? Verdien enigeen van ons enigiets?

Nee.

Indien dit die geval was, het die meerderheid van die wêreldpopulasie wat eindeloos werk vir baie min geld op hul skepe om die wêreld gevaar en in hul luukse privaat vliegtuie rondgevlieg en het ons nooit op vakansie gegaan nie.

Waar ons is, wat ons eet, wat ons beleef en dit wat ons het is net genade. Ja. Selfs jou werk, jou graad, jou bitter klein huisie. Al voel dit vir jou of jy elke maand sukkel, word jy steeds getel as een van die rykstes op aarde. Dit is ‘n feit.

DIE LEWE IS KORT.

Daarom moet jy lewe en als doen en inpas in hierdie lewe wat jy moontlik kan. Jy het een lewe. Joune. Moenie omgee wat ander van jou dink nie. Moenie bang wees om te waag nie. Indien jy ‘n geleentheid kry, reis. Baie mense sê die lewe is lank. Nee… die lewe is kort.

Meestal is die lewe ook hard. Ons is beslis nie ‘n “free pass” belowe op aarde wat die skool van die lewe betref nie. Ons gaan aanhou leer tot ons die dag ons koppe neerlê, maar in die tye waar jy kan reis en die wonderlike wêreld met al sy verskillende kulture kan beleef, moet jy reis en sodoende leer.

Indien jy vir ‘n ruk of selfs nooit kan reis nie, moet jy in die oomblik lewe en probeer om elke dag wat jy gesond is, geliefdes het, met vriende kan kuier, kos kan geniet, met jou kinders kan speel, jou man of vrou kan liefhê en vry kan rondbeweeg, soveel as moontlik doen. Hoekom? Want jy is vry en die lewe is kort.

DIE GRAS LYK ALTYD GROENER AAN DIE ANDER KANT.

Soveel mense in Suid-Afrika is negatief oor Suid-Afrika. Toe ek in Amsterdam was, het Pretoria gebrand en my hart het gebreek.

Toe ek in Portugal was, gebeur die historiese Brexit, is daar betogings in Engeland, is daar vloede, word mense sinneloos in Istanbul doodgeskiet, word waarskuwings uitgestuur oor die volgende ekonomiese resessie, mense staak wêreldwyd en dit voel of die wêreld vibreer.

Ek gesels met mense in Portugal. Ek kyk na die paaie, na dienslewering, beleef ontevredenheid van die bevolking op grootskaal waar 52% van die populasie nie die moeite doen om te gaan stem nie en besef dat baie mense daar, soos in Suid-Afrika, na groener weivelde soek. Engeland is nie meer ‘n opsie nie. Wat nou? Baie van die mense in Portugal oorweeg Suid-Afrika as ‘n opsie, want hul beskryf Suid-Afrika as ‘n paradys…

Ja, die gras lyk altyd groener aan die ander kant. Is dit waarlik? In sommige lande is dit makliker, maar elke land het sy probleme en reëls en baie Suid-Afrikaners dink die gras is groener sonder om te reis en te besef dat ons nog steeds baie het om voor dankbaar te wees, al brand Pretoria, al is Hlaudi steeds in sy pos en al staan ons voor die deur van ‘n groot stryd…

NIKS BLY OOIT DIESELFDE NIE.

Al vat dit ‘n tydjie, soms een jaar, soms veertig, moet mens besef dat niks ooit dieselfde bly nie… Ons raak ouer, die dinamiek in verhoudings met vriende en familie verander, jou gesondheid fluktueer en bou jou karakter, jy verloor hartsmense en dit breek jou vir ‘n rukkie en dan staan jy weer op.

Jy verander van werk, van beroep, verhuis na ‘n ander provinsie of immigreer na ‘n ander land.

Jy as mens bly hopelik ook nie dieselfde nie, want dit sou beteken dat jy nie groei nie.

In ‘n tyd van moedeloosheid moet mens ook net besef dat niks ooit dieselfde bly nie en enigiets ter enige tyd kan verander, insluitende die situasie wat jou moed breek. Wat in die afgelope drie weke regoor die wêreld gebeur het is getuienis daarvan.

JONK BLY IS ‘N KEUSE.

Die wat my waarlik goed ken weet dat die afgelope twee jaar veral vir my persoonlik nie maklik was nie. Hul ken elke draai en elke traan. Ek deel myself nie met almal nie, maar het op ‘n stadium geweet dat als wat gebeur my oud maak.

Ek het ‘n paar maande terug bankvas daarteen begin geskop.

Ek wil jonk bly. Ek wil lag. Ek wil my man gelukkig maak deur elke dag hardop te lag.

Ek het al lank terug tot die besef gekom dat ware rykdom glad nie in aardse besittings, “facebook-likes” of enigeen se opinie van ons lê nie, maar in ware vriendskap, ware liefde, gesondheid en lojaliteit. Dit is rykdom.

Ek het wel ‘n paar maande terug ook tot die besef gekom dat geluk, selfs in die moeilikste tye, ‘n keuse is. Geluk kom in verskeie vorme. Geluk hou jou jonk.

Geluk vertoon homself in die vorm van ‘n vriend wat na oggendkoffie vir jou ‘n hartsgeskenk gee wat jou asem wegslaan, bloot omdat hy ‘n lieflike mens is en op ‘n stadium aan jou gedink het toe jy gedink het niemand dink aan jou nie.

Geluk vertoon homself in die oggendkoffie wat ek elke dag saam met my man geniet.

Geluk vertoon homself in elke nuwe dag van gesond wees.

Geluk vertoon homself wanner jy vir die eerste keer jou vriendin, wie dertien jaar vir haar baba gewag het, se dogtertjie sien.

Geluk vertoon homself wanneer jy waarlik van jouself gee.

Geluk vertoon homself wanneer jy besluit om negatiwiteit uit jou lewe te skuif.

Geluk hou jou jonk in Julie.

Ek sluit af met die volgende lied se lirieke en dra dit op aan my wonderlike man wat my jonk hou en my aanhou oortuig om die stukke weer op te tel…

12

WONDER BO WONDER – DIE HEUWELS FANTASTIES ft Coenie de Villiers

Jy kan sê dis alles toeval
Dis maar soos dit is
Die mense wat mekaar ontmoet
Deur die noodlot so beslis

Ek was al van tevore
Hier waar ons ons bevind
Waar mens ewigdurend trou beloof
Maar jy’s later onbemind

Maar jy trek my soos die maan
Die gety se eb en vloed
Jy laat my dalk weer glo
En jy gee my dalk weer moed

Want wonder bo wonder
Uiteraard onbeplan
Hoe vat ons nou hierdie ding verder?
En hoe keer ons dit dan?

Wonder bo wonder
Uiteraard onbeman
As alles weer in mekaar inval
Sal jy my oortuig
Om die stukke weer op te tel

So word ‘n mens versigtig
So word mens katvoet wys
As almal iewers heengaan
Bly jy dikwels tuis

Want jy’y later te veel letsels
Wat soos soeweniers die hart
Laat huiwer en versigtig maak
Jy hou hom liefs apart

Maar jy trek my soos die maan
Die gety se eb en vloed
Jy laat my dalk weer glo
En jy gee my dalk weer moed

Want wonder bo wonder
Uiteraard onbeplan
Hoe vat ons nou hierdie ding verder?
En hoe keer ons dit dan?

Wonder bo wonder
Uiteraard onbeman
As alles weer in mekaar inval
Sal jy my oortuig
Om die stukke weer op te tel

2 Comments

  1. Jer 9:23-24 Thus says the Lord: Let not the wise and skillful person glory and boast in his wisdom and skill; let not the mighty and powerful person glory and boast in his strength and power; let not the person who is rich [in physical gratification and earthly wealth] glory and boast in his [temporal satisfactions and earthly] riches; (24) But let him who glories glory in this: that he understands and knows Me [personally and practically, directly discerning and recognizing My character], that I am the Lord, Who practices loving-kindness, judgment, and righteousness in the earth, for in these things I delight, says the Lord.

    En ja Rozelle, jy manifesteer dit. Baie dankie vir Vrydag. Dit was ‘n voorreg om jou te kon ontmoet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *