Juwele in Junie

Die winterkoue het pas ons asems begin wegslaan, maar ek bly verstom staan elke keer as ek sien hoe mooi die aarde haarself vertoon in hierdie dorre tyd. Daar’s elke dag ‘n nuwe skat om te ontdek. Herfsblare wat oral rondgestrooi lê, blaarlose takke wat blosend-bleek staan in skoonheid langs die pad, vroeë mistige oggende in die Kaap oor lowergroen vlaktes en ‘n goue middagson wat vroeër arriveer as in die somer, maar ‘n tipe rustigheid skep.

Ek het besluit om hierdie maand net so ‘n bietjie te skryf. Nie te veel nie. Nie te min nie. Daar is eintlik só ‘n kort boodskap in hierdie maand se ‘blog’, maar wel een met agtergrond.

Jy sien, ek worstel die afgelope tyd met ‘n hele paar dinge. Ek noem hulle my drake. Ons almal het drake. Of hulle klein óf groot is, hul is in jou lewe.

Sommige mense is baie stil oor hul drake en net die mense naaste aan hul ken werklik die harde geveg. Ander is meer gemaklik om in publiek hul geveg bekend te maak. (Ja, ons almal ken die vreemde tannie in Checkers se lang ry wat vir jou haar egskeidingsverhaal begin vertel omdat ‘n Huisgenoot-voorblad haar “trigger” terwyl jy wonder hoekom jy ooit vandag Domestos moes kom koop het en of die toiletpapier nie nóg ‘n dag kon hou nie…of miskien is dit net ek.)

Hoe jy ookal die geveg hanteer, dink ek dit is goed om te besef dat ALMAL veg.

Met daardie besef kan mens nie anders as om meer empatie vir ander te hê en minder krities na mens se medemens te kyk nie. Dit het ook die gevolg dat jy besef jou draak is dalk baie, baie kleiner as ander se drake.
Miskien ontdek jy selfs ‘n kis vol juwele in jou lewe in die vorm van goeie raad, toe deure, oop deure, jou oggendkoffie, ‘n heerlike telefoonoproep met ‘n ou vriendin, ‘n fantastiese ete met vriende, ‘n talent wat jy vir té lank in die stof laat lê het, die tannie in Checkers (wat jou laat besef jy het baie om voor dankbaar te wees…)

Ek het hierdie al gesê en ek staan bankvas daarby: “It’s NOT all relative.” Jy kan nie jou twee ure van frustrasie in verkeer vergelyk met die vrou wat nuus gekry het dat sy kanker het nie… Nee. Haar draak is groter.

Dus: In plaas daarvan om vas te kyk in jou drake, besef dat daar ‘n kis juwele is wat net oopgemaak moet word.
Wat jy ontdek, verskaf dalk meer vreugde as wat jy ooit sal besef.

jane - kyk op na chandelier

Ek sluit af met die mooiste lirieke van die volgende legende, skrywer en kabaretster. Hul maal al heel maand in my kop.

PELGRIMSGEBED – Amanda Strydom

Vader God, U ken my naam
My binnegoed en buite staan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet

U ken my vrese en my hoop
Die pad wat ek so kaalvoet loop
Die pad het U al lankal berei
U maak die pad gelyk
Vir my

Alle Pelgrims keer weer huistoe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na U boarding huis

Moeder God, U ken my waan
My ego en my regop staan
Die drake waarteen ek bly veg
U wys my altyd weer die weg

U het my met U lig geseën
Die lig strooi ek op iedereen
Net U weet hoe my toekoms lyk
Ek het niks, U maak my ryk

Alle Pelgrims keer weer huistoe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na U boarding huis

Alle Pelgrims keer weer huistoe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na U boarding huis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *