Alleen in April?

Met ‘n jaar wat vinniger as die vorige een vlieg, het ek in ‘n tyd waar ek seker die meeste moet beweeg, stil geword.

Dit is nie dat ek noodwendig doodstil sit nie, maar vir die eerste maal sedert ek skool verlaat het, studeer ek nie terwyl ek kursusse doen en sing nie. Ek reël nie ‘n troue (in die geheim) terwyl ek tv-onderhoude en radio doen, optree, eksamen skryf en konstant heeltyd elke stap van my toekoms beplan nie.

Ek weet. Almal is altyd so besig. Ek dink al vir so lank dit is ‘overrated’ en dat jy uitkom by diegene wie jy wíl uitkom. Dit voel wel of “besig wees” van ons verwag word. Almal hardloop iewers heen, jaag werk toe en terug, na optredes en onderhoude, maak nuwe films, is by ‘premiere’-aande van hierdie films, studeer, het intussen kinders, koop huise en motors waarin hul skaars ry of woon omdat hul so besig is… Dan vra mens die vraag:  Is als ‘n gejaag na wind? En as iets groot vandag gebeur, gaan ek alleen wees of gaan al hierdie mense wat my nou omring steeds by my staan?

 

Die antwoord op hierdie vraag het ek op ‘n duur manier en ‘n lang ompad geleer. Ek is wel nie spyt oor hierdie les nie.

Wat ek ook geleer het is om stil te word. Hoe stiller ek word, hoe meer omring die regte mense my, al is hul minder. Hoe meer jy luister, hoe wyser word jy, want die regte mense praat nie nonsens nie en hulle bou op. Hulle het nie ego’s nie. Hulle sien die mooi. Hul is positief en dit smeer af. Hul kan vertrou word en is lojaal.

Dus moes ek myself afvra: Al is my vriende minder, is ek Alleen in April?

Hierdie vraag kom met gewig en is ‘n vraag wat ons elk onsself op ‘n stadium moet vra, want al word jy omring deur ‘n duisend wat “mal” is oor jou, wie gee waarlik om, bou jou op, sien jou raak en is lojaal?

DSC_0421

So langs die pad gebeur daar baie dinge met elk van ons en dit vorm wie ons word, maar tog maak ons keuses oor hoe ons elke situasie gaan bly hanteer, of ons gaan toelaat dat seer ons gaan bitter maak en of ons eerder gaan leer uit die seer.

Die ding is…die tyd stap aan (en mense is besig). Dus: Indien jy die seerkry-les leer, vat ‘n oomblik. Vat tyd. Doen introspeksie. Oefen hard. Hardloop jou kop skoon. Huil. Eet baie sjokolade of brood (ai, brood…).

 

Daarna staan jy op uit die stof en besef die volgende:

 

  • Jy het geval, het beserings wat gesond moet word, maar daar is baie ander met erger beserings en jy moet hulle help. Ek glo glad nie dat als relatief is nie. Die feit dat jou dag sleg is omdat jy in verkeer vassit kom nie naby die ou se dag wie sopas gehoor het sy ouers het kanker nie. “It’s NOT all relative”.
  • Daar ís mense wat jou liefhet.

Hoe ouer ek word, hoe minder word hulle, maar hulle is daar.

Hulle is daar om jou te help, na jou te luister en jou beserings gesond te maak, al het hulle self ook stukkende plekke.

  • Die beserings wat so diep is dat dit voel of dit ons uitmekaar gaan skeur, gaan ons wyser maak, ons leer om die mense wat waarlik daar is soveel meer te waardeer om só ons karakters te bou om uiteindelik weer op te staan en te begin loop.
  • Moenie toelaat dat beserings jou gees of menswees vernietig nie…

Jy is steeds jy. Jy het net ‘n wond, maar daardie wond gaan gesond word en dalk nie eers ‘n letsel los nie…

 

Dus: Is jy Alleen in April? Nee, jy is beslis nie alleen nie.

Kyk om jou en kyk wie werklik daar is. Vir sommige is familie hul vriende. Indien dit die geval is, is jy baie geseën. Vir sommige is hul vriende hul familie. Indien jy sulke goeie vriende het, is jy ook geseën.

Die persoon van wie jy dit die minste verwag dra jou soms in sy/haar hart rond en is bekommerd oor jou.

Laat diegene wie van jou vergeet het en jou langs die stofpad laat lê, gaan.

Die ander, wie braaf genoeg was om op te staan en hulself af te stof te midde van hul seer is oppad om jou te kom optel…

DSC_0657

2 Comments

Leave a Reply to Chrissie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *