Meer in Maart

Dit is Maart. Het enige paniek ingeskop toe jy pas hierdie woorde lees? Vir my is dit nogal erg. Hierdie jaar snel verby en alhoewel so baie reeds gebeur het, voel dit of omtrent niks gebeur nie.

Dié wat my goed ken, weet dat 2016 vir my nie so maklik begin het nie. Ek het nuwejaar in my bed gevier met ‘n gekraakte been en seer senuwees. Ek het ook uitgevind dat my maandelikse ‘blog’ van 2 jaar gesteel is en ons huis het so effe verspoel. Dit en ‘n paar ander dinge het het my hart gebreek. Ek was nie lus vir 2016 nie. Ek kon nie verstaan hoekom ‘n nuwe, mooi jaar so moeilik moes begin nie.

 

‘n Paar dinge wat ek vinnig moes leer –

 

Tyd wag vir niemand nie. Ook nie vir my nie. Die lewe gaan aan en ek moes bitter vinnig besluit om positief te raak oor my besering, krukke ens. Ek dink daar gebeur dinge met elkeen waaroor ons nie beheer het nie en ons sit met ‘n reuse klomp vrae op daardie spesifieke oomblik. Ons wonder hoekom dit spesifiek in daardie tyd gebeur en hoekom dan met ons? Wel, daar is nie regtig antwoorde nie… Daar is bloot aanpassing. Ons moet aanpas by ons omstandighede, fisies en geestelik en letterlik die beste daarvaan maak. So spaar jy tyd en energie en fokus jy positiewe energie op ‘n proses van aanpassing wat jou omstandighede betref sodat jy kan genees, deur emosies werk en uiteindelik beter te voel om so aan te beweeg.

 

Die toets wat ek nou druip gaan dalk weer oor my pad kom…

Soos ek al telkemale self beleef het, is dit asof sekere lewenslesse ‘n paar maal oor mens se pad kom. Jy dink jy slaag hom, maar nee… Jy druip. Jy druip regtig sleg. Laag… Mens het soms sekere reaksies op sekere dinge,mense en situasies. Ek het baie maal al die toets gedruip. Daardie toets het later jare weer oor my pad gekom – tot ek leer om die situasie en my reaksie daarop beter te hanteer. In daardie oomblik besef jy jy word groot. Soms besef jy jy word miskien effe harder. Hoe ookal, slaag almal hopelik eindelik die toetse wat die lewe na jou kant toe gooi. Anders gaan jy aanhou studeer…

Hoe langer ek op hierdie aarde rondwandel met al my vrae en toetse wat ek druip, hoe meer verwonder ek my aan die mens en sy natuur, goed en sleg. Ek het in Maart ‘n keuse gemaak om myself van die sleg te distansieer en meer en meer op die goeie te fokus. Ek dink ons almal moet tot die besef kom dat mense ons teleurstel, maar dat ons ook ander teleurstel. Deur op mense se goeie einskappe te fokus asook die rede hoekom hul eintlik in jou lewe is, kan dalk net ‘n vriendskap of twee red, jou liewer maak vir jou vriende en veroorsaak dat jy dalk jou man of vrou met ander oë aanskou.

 

Ek besef daar is bitter baie om voor dankbaar te wees.

Die lewe is nooit perfek nie, maar elk van ons kan ‘n paar dinge gaan tel om voor dankbaar te wees. Dus dink ek dit is dalk goed om in Maart te fokus op slegs die goeie, meer van jouself te gee en dankbaar te wees vir dít wat ons so vanselfsprekend neem elke dag.

Ek sluit af met die volgende lirieke, want ek is lief vir hierdie lirieke, is lief om hul te sing en dink ‘n meester het hul geskryf.

 

 

Die mense wat ek liefhet

Die mense wat ek liefhet
Kom groei op my soos mos
Dan laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
Beskut teen die koue
Die snoesigheid self
Ek met my moskombersie

En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek liefhet
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepanser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self
Ek met my menskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het weg moet gaan
Dan sit daar ‘n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self
Ek met my seerplek
Wat net nie wil genees nie

One Comment

  1. Francois

    Dis ongelooflik mooi en so is daar nog baie lesse wat seker maar soos skool werk hul self moet herhaal tot jy dit “heeltemal” ken.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *